Sunday, February 27, 2011

Spankamp Februarie 2011

Met groot opgewondenheid (en sommige baie bekommerde mammas) kom elf Koedoes Vrydagaand, 18 Februarie, net na sesuur bymekaar by my huis vir hulle eerste kamp.

Almal kom bymekaar en luister gou na al die kampreëls waarvan die belangrikste is dat geen Koedoe in die huis mag gaan nie (my vrou hou nie van Koedoespore in die huis nie). Met vele hande wat help is die tent gou-gou opgeslaan en almal skarrel vir 'n slaapplek.

Die vuur word aangesteek en kort voor lank vul die worsreuk die lug en skielik is al die Koedoes honger leeus. Dertig boerewors rolletjies later is almal se mae vol en soek almal 'n plekkie in die tent vir ons aandgesprek. Daar word gepraat oor die gevare van water en swem en almal luister en neem deel (anders kry hulle nie die verassing nie).

Nie lank nie of die verrassing kom te vore, malvalekkers en sosatiestokkies, en onmiddelik het almal skielik weer plek in hul mae. Saam met warm milo word aan gebraaide malvalekkers gesmul en almal gaan soek 'n slaapsak op. Na ons bietjie stil geword het en tyd saam ons Hemelvader spandeer het laat ek die Koedoes alleen terwyl ek gaan opruim.

Na 'n uur of wat se mannewales in die tent, daal daar uiteindelik stilte neer in die agterplaas, wonder bo wonder is dit net na tienuur. Ek het nie gedink die klomp Koedoes sou so vinnig almal uit wees nie. Ek vat toe maar my eie slaapsak en soek ‘n plekkie in die tent tussen al die slapende Koedoes.

Net voor sesuur die volgende oggend ontwaak almal en as jy gedink het voëltjies maak ‘n geraas vroegoggend het jy nog nie ‘n klomp koedoes gehoor nie. Na vinnige gesigwas en tandeborsel staan almal reg vir ontbyt. Koffie en beskuit en lekker mieliepap (en graanpap vir die klomp stadsjapies wat nie mieliepap ken nie) begroet ons almal. Kort voor lank is almal se mae weer lekker vol en is dit tyd om weer bietjie rustig te raak.

Daar word verder gepraat oor die moets en moenies rondom ‘n swemplek en die gevare waarvoor ons moet uitkyk. En toe vertrek ons na die swembad waar ons die Waterveiligheid se praktiese gedeelte sou voltooi. Ons bestelling vir mooi sonskyn weer het duidelik verlore geraak in die pos en ons kom by die swembad aan en sien geen son nie, net wolke en reën wat wil-wil begin val.

Maar Koedoes is mos nie bang en kort voor lank is almal in die water en word die eerste speletjie, Hou Koers, gespeel . Die een wat aan is maak sy oë toe en roep 'hou' en dan moet die ander antwoord 'koers'. Hy moet dan probeer om een van die ander te vang. Na die eerste speletjie word daar ingespring sonder om jou neus toe te hou, watergetrap vir drie minute, borrels geblaas in die water en voorwerpe van die bodem af uitgeduik.

Na omtrent vyftig minute is dit tyd vir koeldrank, piesangs en iets soets om te probeer om die energie vlakke weer terug te kry. Die son het nog nie sy verskyning gemaak nie en almal staan bibberend rond met handdoeke om die lyf. Tyd om die koedoes te wys hoe om vryslag te swem en ek trotseer self die koel water en verduidelik vir hulle stap vir stap hoe mens vryslag swem. Na ‘n demonstrasie van die korrekte manier hoe om dit te swem kry elke koedoe een vir een die geleentheid om twee lengtes (ongeveer tien meter) van die swembad te swem.

Met ‘n hand hier en daar om reg te help swem elke koedoe sy twee lengtes vryslag. Die swem word gevolg deur watervlugbal en na ons die koue water trotseer het vir net minder as twee ure is dit tyd om terug te gaan na ons kampplek vir middagete. Terwyl ons opruim rondom die swembad en klere aantrek, sal julle nou nie glo wie daag op nie, die son (net twee ure laat).

Terug by die huis word daar weer geswem aangesien die son mos nou besluit het om by ons aan te sluit. Daar word geswem en ingespring en voorwerpe uitgeduik alles onder my wakende oog. Dit was nie lank nie en toe begin die hongerpyne ons sê dit is tyd vir middagete. Na tafelgebed word ons begroet met die reuk van heerlike macaroni en kaas met weense worsies tussenin. Skielik word koedoes weer honger leeus en kort voor lank is beide bakke macaroni leeg, maar gelukkig is almal se mae vol, net genoeg plek oor vir jellie en vla.


Met die mae nou vol kan ons dit nie waag in die swembad nie, want ons sal sowaar sink en speel toe eerder sokker en bok in die hok. Na almal warm gehardloop is en die kos afgesak het is dit weer tyd om vinnig af te koel in die swembad voor die groot Koedoe inlywing.

Almal vind ‘n sitplek in die tent en daar word gepraat oor wat dit beteken om ‘n Koedoe te wees. Almal kry ‘n kans om die Koedoe belofte af te lê en dit te verseël deur uit dieselfde beker koedoebloed, ‘n geheime spesiale konkoksie, te drink en sy merk te los op die sertifikaat wat as bewys dien dat hy nou ‘n rammetjie van die Koedoespan is.

Almal help gou om die tent af te slaan en op te ruim en so kom die eerste Koedoekamp tot ‘n einde.

Fotos - Spankamp Februarie 2011

Speletjies Aand

Vrydagaand 11 Februarie het Sytze Wierda kommando 'n speletjies aand aangebied.

Die Koedoes se speletjie was Stapel Omgooi, waar 'n piramide van blikkies omgegooi moes word met drie balle. Die speletjie was baie gewild en die kinders het die ongelooflik geniet.

Daar was ook 'n spookhuis en vele ander speletjies met pryse wat die kinders kon geniet.

Volg die skakel onder vir meer fotos.

Fotos - Speletjies Aand

Monday, February 7, 2011

Babbel en Borrel

Ons het almal baie skuimpret gehad by Sytze Wierda se Babbel en Borrel vandag. Almal is nou hopelik baie skoner.

Volg die skakel onder vir fotos van al die pret.

Kyk of jy jouself kan sien.

Fotos - Babbel en Borrel

Sunday, February 6, 2011

Jaarprogram 2011

Ons kom bymekaar elke Maandag middag van 17h00 tot 18h00 by die Sytze Wierda Voortrekkersentrum, hoek van Friedrich en Koedoe straat, Wierdapark, Centurion.

Die porgram van die jaar kan gesien of afgelaai word deur die skakel onder te volg.

Koedoes Jaarprogram 2011.

Welkom

Welkom by die Koedeos webtuiste.

Ons is die graad 2 Penkoppe van Sytze Wierda Voortrekkerkommando.

Kom besoek gerus die webtuiste gereeld om te sien wat ons alles doen.

My kontakbesonderhede is jacohavenga@imaginet.co.za vir enige navrae.