Na almal se mae lekker vol is sit ons en gesels bietjie oor plante, bome en ons nasionale simbole. Dit word opgevolg met stiltetyd met 'n baie gepaste bybelopdrag om die natuur te bewaar. Toe is dit tyd vir die koedoes om verspot te wees vir 'n rukkie voor dit slaaptyd is.
Vroeg Saterdag oggend word almal opgejaag en daar word lekker ontbyt gemaak voor die groot stap. Almal in die karre en weg is ons Groenkloof toe. Hier stap ons 'n hele 5 kilometer in die veld en sien sommer 'n hele klomp inheemse bome asook 'n paar dassies en so wrintiewaar 'n koedoe.
Volgende kry elkeen drie sade en moet hulle dit self plant en gaan versorg by die huis. Almal was sommer baie opgewonde om te sien hoe groei hulle sonneblomme, tamaties en ertjies. Of hulle nog leef is ek nie so seker nie, maar darem vir 'n paar weke het hulle elke dag water gekry.
Nog so vinnige laaste swem voor middagete en toe gou tent afslaan en al die koedoes gaan weer terug huis toe met hul spog-plakkate en geplante saadjies.