Sunday, March 4, 2012

Spankamp Maart 2012

Vrydag 2 Maart kom al die Koedoes by Oom Jaco se huis bymekaar en begin tent opslaan. Toe die tent staan is dit tyd om die vuur aan te steek en daar word sommer gou gesels oor die gevare van vuur en hoe om vuur te maak. Nie lank nie en die kaasworsies lĂȘ en borrel op die rooster, net om die ergste hongerpyne te stil terwyl die boerewors gaar word vir die broodjies wat wag.

Na almal se mae lekker vol is sit ons en gesels bietjie oor plante, bome en ons nasionale simbole. Dit word opgevolg met stiltetyd met 'n baie gepaste bybelopdrag om die natuur te bewaar. Toe is dit tyd vir die koedoes om verspot te wees vir 'n rukkie voor dit slaaptyd is.

Vroeg Saterdag oggend word almal opgejaag en daar word lekker ontbyt gemaak voor die groot stap. Almal in die karre en weg is ons Groenkloof toe. Hier stap ons 'n hele 5 kilometer in die veld en sien sommer 'n hele klomp inheemse bome asook 'n paar dassies en so wrintiewaar 'n koedoe.



Terug by die kar takel klomp moeg honger koedoes die broodjies, appels en koeldrank en darem so iets soets ook voor die rit terug huis toe aangepak word. Terug by die huis word daar gou 'n bietjie geswem en toe word daar geleer van vyf inheemse bome wat sommer daar by die huis in die tuin staan. Geelhout, Karob, Karee, Wit Stinkhout en Luiperd bome se blare word gepluk en almal leer gou hoe om hulle te identifiseer en maak elkeen 'n plakkaat om huis toe te vat.

Volgende kry elkeen drie sade en moet hulle dit self plant en gaan versorg by die huis. Almal was sommer baie opgewonde om te sien hoe groei hulle sonneblomme, tamaties en ertjies. Of hulle nog leef is ek nie so seker nie, maar darem vir 'n paar weke het hulle elke dag water gekry.

Nog so vinnige laaste swem voor middagete en toe gou tent afslaan en al die koedoes gaan weer terug huis toe met hul spog-plakkate en geplante saadjies.

No comments:

Post a Comment