Saturday, June 2, 2012

Rooihuiskraal GGA - Fietsry

Op Saterdag 2 Junie het 8 Koedoes die Rooihuiskraal GGA bygewoon en die Fietsry spesialisasie voltooi.

Ons het geleer van al die dele van 'n fiets en wat hul funksie is. Die raam, handvastel, sitplek, bande, speke, remme, remblokke, wiel, ketting, ratwisselaar en ratte.

Daarna het ons geleer hoe om 'n fiets veilig te hanteer en geleer van handseine wat ons moet gebruik om seker te maak ander padgebruikers is bewus van wat ons gaan doen. Verder het ons stilgestaan en geleer van padtekens en hul betekenis, want  ons kan tog nie op die pad ry sonder dat ons weet wat die tekens bedoel nie.

Kort daarna was dit tyd vir ons fietse om gebad te word, warm skuimbolle het vinnig orals op fiets gelê en nie lank nie en al die fietse blink in die lekker sonskyn.


Bane word gebou met padtekens en elkeen moet die baan ry en die nodige padtekens korrek identifiseer en toepas. Handseine moet ook gebruik word en dit is duidelik dat meeste maar nog skrikerig is om net met een hand op die handvastel te ry.

Die baan suksesvol voltooi en middagete word verslind, want watter Koedoes is nou nie mal oor pizza nie. Almal se magies lekker vol en bietjie uitgerus en die lang 2 kilometer rit word aangepak. Die sirkelbaan van ongeveer 1km is netjies uitgewerk en sluit 'n strawwe bult en lekker afdraande in en verder is daar moeilike dele waar ons deur diep sand moes ry (of stoot) as jy vasval. Die baan was soveel pret dat sommige Koedoes sommer 4 keer die baan voltooi het.

En uiteindelik is nog 'n dag van Voortrekkerpret by 'n einde en 'n paar moeë Koedoes laai die fietse weer in karre en gaan terug na hul huise.

No comments:

Post a Comment